Stefan het die Groenste Vingers

by Bruidsgids
145 views

Geskryf deur: Stefan Smuts van Black Tulip Floral & Decor Styling

My naam is Stefan Smuts, eienaar en stigter van Black Tulip Floral & Décor Styling, asook die wenner van “DIE GROENSTE VINGERS,” Seisoen Twee. Ek het grootgeword in Pretoria, met ‘n baie groot liefde vir die plaas- en bosveldlewe, wat beslis vandag ‘n kenmerkende eienskap van my blomme- en dekorstilering is. Van kleins af het ek geweet ek wil graag in die trou-industrie werk as ‘n blomme- en dekorstilis – ek het gereeld op ‘n baie vroeë ouderdom saam met my ouma begin werk en geleer waar sy gereeld blomme vir troues en funksies gedoen het, tot op die ouderdom van 16, toe ek my heel eerste professionele troue se blomme self behartig het. Ek het myself na skool gaan kwalifiseer as ‘n voltydse trou- / geleentheidsbeplanner, bloemis en dekorstilis, waarin ek ‘n Goue toekenning verwerf het, en ook van toe af my eie styl ontwikkel het, tot en met vandag – iets waarop ek baie trots is. My blomme- en dekorstyl sal ek beskryf as Skone Kuns (Fine Art) – gesofistikeerd, met fyn detail en afronding. Ek kombineer dit dikwels met natuurlike, aardse elemente, soos kleipotte, grasse en droë doringtakke. My inspirasie vir my blomme- en dekorstyl is beslis ons Suid-Afrikaanse bosveldnatuur, en ek het ‘n obsessie met droë veldgrasse – dit is vir my die mooiste ding ooit.

“Die blomstyl vir 2023 is baie los, kleurvol en vol tekstuur. Tuinblomme is perfek vir die los styl, omdat dit die gevoel moet skep van ‘n los en deurmekaar tuin (ongestruktureerd).”

 

Die kleurmodes vir 2023 is kleurvol, en hiervoor is dahlias, tuinrose, tulpe, agrostemma en ranonkels met hul helder kleure, perfek. Dit is maar net ‘n paar van die blomme wat ‘n mens kan noem, en dit klassifiseer  onder tuinblomme, wat hoogmode is in 2023. Die blomstyl vir 2023 is baie los, kleurvol en vol tekstuur. Tuinblomme is perfek vir die los styl, omdat dit die gevoel moet skep van ‘n los en deurmekaar tuin (ongestruktureerd). Vandag se blomstyle floreer ook in die verskillende teksture van al die interessante blomme, bessies, sade en loof. Daar word vandag ook baie meer van loof uit ‘n mens se eie tuin gebruik gemaak, wat verskillende interessante vorms en teksture verseker. Dit bied soveel meer as jou gewone eucalyptus-blare wat by ‘n bloemistewinkel gevind kan word, en dit maak ‘n groot verskil in die eindresultaat van jou skepping, met minimale blomvereistes.

Die blomindustrie was ook vroeër jare baie bekend vir stywe rangskikkings in ‘n spesifieke vorm, veral rond en driehoekig, terwyl dit vandag baie meer los en uit balans is. ‘n Groot fokusblom wat vroeër onder as ‘n basis gebruik sou word vir balans, saam met die ander blomme, word nou in 2023 gebruik as ‘n aksentblom wat heelwat uitstaan bo die res / basis van die rangskikking, bv ‘n roos wat met ‘n lang steel bo die basis van n rangskikking uitstaan, amper asof dit met opset uit balans is, om die fokus en klem op die spesifieke blom te plaas – maar tog werk dit BAIE GOED. Dit is steeds baie belangrik om die regte verhoudings te gebruik, al is die tendens los en ongestruktureerd, sodat jou rangskikking steeds voldoen aan die nodige vereistes ten opsigte van vorm, lyn, ritme, herhaling en tekstuur, wat ‘n baie belangrike aspek is vir die eindresultaat van jou ontwerp, om steeds ‘n afgeronde en goed uitgevoerde produk te lewer.

Vir meer inligting en indiepte-besprekings kan julle uitsien na die groot / volledige artikel in die Bruidsgids 2024-weergawe.

Tel: 074 065 9537

E-pos: stefansmuts1112@gmail.com

Facebook: https://www.facebook.com/Blacktulipstyling

Instagram: https://www.instagram.com/black_tulip_styling/

Foto’s: Stefan Smuts 

You may also like