Geskryf deur: Helpende Hand, aangepas deur Esri Cronjé
Foto deur: HelpHetta
Daar is baie prosesse wat ń meisie se liggaam moet deurgaan om uiteindelik ń pragtige vrou te word. Solidariteit Helpende Hand het HelpHetta gestig om tienermeisies deur hierdie proses te help en dit so gemaklik moontlik te maak wanneer die omstandighede dalk moeilik is.
Hier is meer inligting oor die #HelpHetta-projek;
Hetta is ’n tienermeisie, soos enige ander meisie, maar Hetta kom uit ’n behoeftige gesin en haar ouers het nie altyd genoeg geld om alles te koop wat sy nodig het nie. Haar maandelikse sanitêre benodigdhede is een van die produkte waarvoor haar ouers nie fondse beskikbaar het nie.
Daarom is die #HelpHetta-projek in 2015 deur Solidariteit Helpende Hand gestig. Ons poog om meisiewees maklik te maak vir alle meisies wat, soos Hetta, nie sanitêre ware kan bekostig nie. Daardeur wil ons skoolmeisies se waardigheid beskerm sodat hulle kommerloos kan leef en die beste maak van elke geleentheid wat oor hul pad kom.
Helpende Hand het deur navorsing onder Afrikaanse skoolmeisies die volgende bevind:
- Meisies wat nie sanitêre ware kan bekostig nie, loop soveel as 52 skooldae per jaar mis.
- Meer as 13% skoolmeisies (regoor Suid-Afrika) meen dat hulle nie genoeg sanitêre produkte vir ’n maand het nie.
- Ongeveer 49% skoolmeisies is nie gemaklik om die onderwerp van menstruasie met hulle skoolmaats te bespreek nie.
Ons kan en mag nie toelaat dat vrouwees in die pad staan van ’n meisie se opvoeding en waardigheid nie!
Skole/organisasies wat betrokke is by #HelpHetta kan een keer per jaar aansoek doen, waarna hulle ’n streng keuringsproses ondergaan. Die #HelpHetta-projek het in 2019 sanitêre ware aan ongeveer 3000 skoolmeisies in +- 100 skole/organisasies regoor die land verskaf. ’n Hetta-pakkie word dan vier keer per jaar vanaf Helpende Hand se hoofkantoor versprei, terwyl Helpende Hand se landswye vrywilligertakke deurlopend produkte in hul gemeenskappe insamel en dit aan die #HelpHetta-skole versprei.
Sedert die begin van die projek is al meer as R2 000 000 aan die #HelpHetta-projek bestee.
Bruidgids wil graag deel vorm van hierdie wonderlike projek met die hulp van ons bruidskou – Expo4Brides – wat plaasvind op 22 en 23 Februarie 2020 by Brooklyn Mall. Besoek ons skou en bring asb ń pakkie sanitêre doekies saam – daar sal ń boks wees waarin die doekies gegooi kan word. Elke pakkie tel – so bring dit gerus saam en help om hierdie wonderlike fase in ń meisie se lewe vir haar makliker te maak.