Geskryf deur Marizanne Naested, verhouding en seksualiteitsberader & TRE-praktisyn
Voorhuwelikse berading help om ’n sterk fondasie vir ʼn huwelik te lê en is ʼn slim belegging in die langtermynkwaliteit van verhoudings. Dit kan voel soos nóg ’n item wat paartjies moet inpas en waarvoor hulle moet begroot, maar op die lange duur betaal dit vir seker af.
Voorsorg
Navorsing toon dat paartjies wat voorhuwelikse berading bywoon, beter kommunikeer en minder geneig is om te skei. Stanley (2001) beskryf vier kernvoordele:
- Dit laat paartjies vir ʼn oomblik stilstaan en meer doelbewus oor hul huwelik dink.
- Dit stuur ʼn boodskap uit dat julle huwelik iets ernstig is om op te neem.
- Dit help paartjies om te weet waar hulle hulp kan kry indien hulle dit later nodig het.
- Dit kan die risiko van latere nood in die huwelik of ʼn egskeiding verlaag.
Carlson et al. (2012) het bevind dat paartjies wat hul voorhuwelikseberadingsprogram voltooi, merkbaar beter vaar as dié wat nie al die sessies voltooi het nie.
Moderne druk en sosiale media
Bruidspare van vandag ervaar unieke druk. Sosiale media oorlaai paartjies met idees van hoe hulle troue en hul huwelik moet lyk. Voorhuwelikse berading help paartjies om te onderskei tussen wat hulle regtig wil hê en wat net in die mode is. Dit skep ruimte om realistiese grense te stel, prioriteite te orden en saam besluite te neem op ’n manier wat hul unieke verhouding eer.
Praktiese vaardighede
Voorhuwelikse berading gee ʼn paartjie nie net kans om te gesels nie – dit bied konkrete tegnieke wat hulle in hul huwelik kan toepas. Onderwerpe soos finansiële beplanning, rolverwagtinge, grense met familie en skoonfamilie, emosionele en seksuele intimiteit, en gesonde konflikhantering word in hierdie sessies bespreek. Ek sien dikwels hoe belangrik dit is om vroeg in die huwelik al seksualiteit te bespreek, veral as paartjies verskil van mekaar of ongemak ervaar.
ʼn Belangrike deel van hierdie werk is om kern-verhoudingsbehoeftes te identifiseer en bevestigende kommunikasie te leer ken. Dit help paartjies om mekaar se gevoelens regtig te hoor en skep ʼn veilige emosionele ruimte – iets wat tyd kan neem, maar wat die huwelik veerkragtig hou.
Meer as voorkoming
Voorhuwelikse berading is nie net “voorkomend” nie – dit kan ʼn vreugdevolle manier wees vir paartjies om saam te droom oor hulle huwelik, nie net hulle troudag nie. Dit is ʼn belegging in vreugde, versterk groei en lei tot ʼn dieper verbinding. Hetsy die verhouding meer tradisioneel of minder tradisioneel lyk, die beginsels bly dieselfde: koester die liefde, gebruik opbouende kommunikasie, hê respek vir mekaar en julle unieke verbinding.
Gee die jawoord
Voorhuwelikse berading beteken nie dat die verhouding ʼn rooi vlag het nie – dit is ’n teken dat ʼn paartjie ernstig oor mekaar en oor die huwelik is waaraan hulle gaan bou. Dit kan selfs ’n prettige ervaring wees wat die persone dieper aan mekaar verbind, en lei tot ʼn klomp nuwe ontdekkings oor jouself en jou maat.
Sternberg se Driehoekteorie van Liefde wys dat ʼn gesonde verhouding drie elemente balanseer: intimiteit (emosionele nabyheid), passie (daardie vonk en aantrekkingskrag tot mekaar) en verbintenis (die besluit om by mekaar te bly). Voorhuwelikse berading help paartjies om hierdie drie elemente bewustelik te versterk, sodat die liefde nie net tot die troudag hou nie, maar vir jare daarna nog groei en verdiep.
